Die Simptome van GERS
Tipiese Simptome
Gastroesofageale refluks siekte word gekenmerk deur een of meer van die volgende simptome:
Sooibrand
Sooibrand is ‘n brandgevoel wat van die bobuik af opstrek in die borskas in. Die brandgevoel kan strek tot in die keel, of selfs tot in die ore.
Moeilike Sluk
Kos of vloeistowwe kan vassteek in die slukderm. Herhaalde slukpogings moet dan uitgevoer word, of vloeistowwe moet geneem word om die voedsel af te sluk na die maag. Pyn met sluk kan ook voorkom, veral van suur voedsels soos bv. lemoensap.
Refluks en Regurgitasie
Refluks en regurgitasie ontstaan wanneer suur of voedsel vanaf die maag terugstoot in die mond. Dit vind spontaan in die regop posisie, tydens buk of in die liggende posisie plaas. Sommige persone voel asof hulle herkou na ete. Die simptome kom bv. voor met buk om tande te borsel of skoene vas te maak. In die nag kan regurgitasie plaasvind wat selfs tot verstikking kan lei.
Atipiese Simptome
Borskaspyn
Borskaspyn kan wissel van gering sporadies tot erge pyn. Soms konsulteer die persone ‘n hartspesialis om die borskaspyn te ondersoek.
Longsimptome
Asma,chroniese brongitis, chroniese hoes en heesheid kan soms as gevolg van GERS wees. In 80% van volwasse persone met asma word die asma aangewakker deur GERS.
Die Slukproses
Nadat voedsel gekou is, word dit afgesluk na die maag deur die slukderm of esofagus. Die slukderm bestaan uit 'n lang buis wat die keel en die maag met mekaar verbind. Die slukderm is aan die binnekant met ‘n slymvlies bedekking uitgevoer. Die buitekant van die slukderm bestaan uit twee spierlae nl. die kringspier en die lengtespier. Die spiere van die slukderm is verantwoordelik vir die sametrekking van die slukderm om sodoende die kos voort te beweeg. Hierdie sametrekkings of kontraksies wat die voedsel voortbeweeg staan bekend as peristalse.
Anatomie
Die slukderm verloop vanaf die keel na die maag deur die borskas. Die slukderm dring deur ‘n opening in die diafragma of mantelvlies. Hierdie opening in die diafragma staan bekend as die hiatus. Die slukderm sluit dan by die maag aan. Die hiatus word gevorm deur spiere van die diafragma wat om die opening gerangskik is.
Aan die ondereinde van die slukderm by die maag aansluiting is 'n ringvormige spier. Die slukderm sluit aan by die maag teen ‘n hoek. Hierdie kringspier en hoek waarmee die slukderm by die maag aansluit, sowel as die spiere om die opening van die hiatus, vorm saam ‘n klep tussen die slukderm en die maag. Hierdie klep werk soos 'n eenrigting klep wat die voedsel deurlaat na die maag. Die klep sluit na sluk om te verhoed dat die etsende soutsuur vanaf die maag terugstoot in die slukderm. Indien die klep nie behoorlik funksioneer nie, kan oormatige etsende soutsuur van die maag af opstoot of terugloop in die slukderm in. Die gevolg hiervan is simptome van GERS en uiteindelik skade aan die slukderm.
Faktore wat bydra tot GERS
Sommige mense word gebore met 'n klep tussen die maag en die slukderm wat swak funksioneer. 'n Mantelvlies of diafragmabreuk (hiatus hernia) is dikwels teenwoordig by GERS. GERS kan ook voorkom in die afwesigheid van 'n mantelvliesbreuk.
Sekere kosse kan GERS uitlok.
Vetterige en sterk gekruide kosse, sekere medikasie, stywe kledingstukke, rook, alkohol, koffie. Oefening en ligaamsposisie bv. buk of lê kan ook GERS uitlok. Stress speel ook ‘n rol. Bogenoemde kan almal verslapping van die klep veroorsaak. Suur kan teruglek na die slukderm en die simptome word ervaar.









