1. Wysiging van lewensstyl
Gewigsverlies, staking van die rookgewoonte, alkohol onthouding, verandering van eetgewoontes en slaapgewoontes kan ook dikwels simptome verlig. Vermy stywe kleding en lig die kopenent van die bed. Vermindering van stressvlakke.
2. Geneesmiddels
In baie gevalle kan kommersieële antisuur die simptome baie goed beheer. Indien die simptome van GERS voortduur ten spyte van bogenoemde is mediese behandeling deur 'n geneesheer aangedui. Behandeling kan wissel van antisuurmiddels en middels wat peri-stalse verbeter, tot kragtige suur onderdrukkende medikasie. Voor-geskrewe medikasie is kragtiger in die onderdrukking van suur en is meer effektief in die beheer van simptome en genesing van die sluk-derm as die kommersieël beskikbare antisuurmiddels. Hierdie me-dikasie sal gewoonlik voordurend of selfs lewenslank geneem moet word om die simptome te beheer, aangesien medikasie nie die klep kan herstel nie. Die behandling gee slegs tydelike verligting van simptome en die simptome herhaal na die staking van die medi-kasie in die gevalle. Soms word die simptome nie volledig deur die medikasie beheer nie, en die dosering moet dan verhoog word.
Die medikasie is ongelukkig ook duur.
3. Chirurgie
Chirurgie bied effektiewe verligting van die simtpome van GERS. Koste oorwegings, komplikasies van GERS en volgehoue lewenslange geneesmiddel gebruik is dikwels ook 'n oorweging vir chirurgie. Geneesmiddels kan nie 'n klep maak nie en die siekte vlam dikwels weer op na staking van medikasie.
Die operasie is voorheen uitgevoer by wyse van tradisionele oop chirurgie. 'n Lang vertikale sny op die bobuik, of deur die linker borskas is uitgevoer met gevolglike bobuik of borskas litteken, pyn na chirurgie en 'n lang herstel tydperk van ses tot agt weke.
Hierdie operasie word nou uitgevoer by wyse van laparoskopiese chirurgie. Hierdie metode behels 'n kort hospitaal verblyf van 48 uur, goeie kosmetiese herstel, minimale pyn, vinnige herstel en terugkeer na normale werk en ander aktiwiteite.
Die operasie word uitgevoer deur gebruik te maak van 'n spesiale lang buisvormige lens 10 millimeter in deursnit. Die lens word aan 'n spesiale video kamera gekoppel. Hierdie lens en kamera sisteem staan bekend as 'n video laparoskoop. Vandaar die naam lapa-roskopiese chirurgie. Die operasie word onder algemene narkose uitgevoer.
Die tipe chirurgie staan in die leke literatuur ook bekend as laser chirurgie, sleutelgat of knoopsgat chirurgie. Die buik word met koolsuurgas opgeblaas, dmv ‘n insufflator, deur 'n spesiale naald wat in die buik geplaas word. Die gasgevulde buikholte word benodig om spasie te skep om in te werk.
Daarna word een 10 mm snytjie net bo die naeltjie gemaak. 'n Spesiale buisie met 'n klep om die gas in die buik te behou word deur die snytjie en deur die buikwand tot in die buikholte geplaas. Hierdie buisie staan bekend as ‘n trokar. Die laparoskoop word dan deur die buisie of kanule geplaas om in die buik te kyk. Die beeld word deur die chirurg waargeneem op 'n videoskerm voor hom. Die beeld is 10 tot 20 maal vergroot op die skerm voor die chirurg. Twee skerms word gebruik - een vir die chirurg en teatersuster en een vir die twee assistent dokters wat help met die operasie. Een van die assistente beheer die kamera.
'n Verdere vier klein 5 mm snytjies word gemaak om verder buisies of trokars in die buik te plaas waardeur die operasie instrumente geplaas word.
Die operasie behels die volgende stappe:
Die klep area waar die slukderm en die maag bymekaar aansluit word oopgemaak. Die maag word losgemaak en weer terug in die buik geplaas. Die kort bloedvate tussen die milt en die maag word verdeel om mobiliteit aan die boonste deel of fundus van die maag te gee. Die opening in die diafragma of hiatus word toegewerk en herstel. (Die breukherstel) n Klep word gemaak tussen die slukderm en die maag, deur 'n deel van die maag soos 'n boordjie, om die slukderm te plaas. (Die klepherstel)
Na afloop van die operasie en die narkose word die pasiënt oorgeplaas na die narkose herstelkamer in die teater kompleks. Sodra die pasiënt wakker is vind oorplasing na die saal plaas. Die pasiënt vertoef ongeveer een uur in die teater kompleks. Pynstillers word na die operasie toegedien sodra die pasiënt stabiel is. Meeste pasiënte ondervind pyn in die skouers en bors en nie juis buikpyn nie. Dit is verwysde pyn vanaf die mantelvleis of diafragma area wat in die skouers ervaar word. Dit is selde nodig vir meer as een of twee pyn inspuitings.
Voordele van laparoskopiese chirurgie:
Bespreking van die operasie en hospitaal geskied by die spreekkamer nadat die ondersoeke voltooi is. Die nodige opname vorms wat alle rekening en mediese fonds inligting bevat sal voorsien word. Die vorms word tuis voltooi en met opname na die hospitaal geneem. Die mediese fonds moet gewoonlik in kennis gestel word van die beplande opname en operasie. Die fonds benodig sekere tarief kodes van die operasie. Die kodes kan by die spreekkamer personeel verkry word
U moet saamneem: ID Dokument, Mediese Fondskaart, Magtingsnommer, Kroniese medikasie, Slaapklere, Toiletware en Leesstof. Opname in die hospitaal geskied die oggend van die operasie om 06h00. Die pasiënt mag nie eet, drink of rook vanaf die vorige aand 22h00 nie. Dit is belangrik dat die pasiënt vastend by die hospitaal moet opdaag vir opname. Ter voorberei-ding vir teater in die saal, is vroeë aanmelding vir opname by die hospitaal wenslik, veral vir die pasiënte wat vroeg op die teater-lys bespreek is. Privaatpasiënte moet voorafbetaling met die hospitaal rëel. Kwotasies kan verkry word. Laat liefs waardevolle artikels en juwele tuis.
Die operasie staan bekend as:
Laparoskopiese Hiatus Hernia herstel met Nissen Fundoplikasie.
Die pasiënt teken toestemming tot die toediening van 'n algemene narkose en uitvoering van die operasie.
Die narkotiseurs is Drs. Gerrie Brink en Vennote Narkotiseurs.
Die narkose sal uitgevoer word deur een van die spesialis narkotiseur vennote van die narkose firma.
'n Pre-operatiewe inligtingstuk word aan die pasiënt voorsien.
'n Vorm moet tuis, voor die operasie voltooi word wat die vorige mediese geskiedenis en behandeling aandui. Alle mediese geskiedenis moet aan die narkotiseur voorgelê word asook alle medikasie wat gebruik word. Alle medikasie moet aangedui word, selfs kommersieële middels soos hoofpynpille, poeiers, slaappille, verslankingsmiddels en natuurlik enige hart, bloeddruk en ander voorskrif medi-syne. Indien enige navrae oor die narkotiseur, fooie of narkose verwante probleme, moet die narko-tiseurs gekontak word by die telefoonnommers wat in die inligtingstuk beskikbaar is. Lees asb. die inligtingstuk sorgvuldig deur en vergewis u van die inhoud daarvan.
Die totale hospitaalverblyf is gewoonlik 2 dae. As die operasie op 'n Dinsdag plaasvind is die opname die Dinsdag oggend om 06h00. Ontslag vind op die Donderdag oggend plaas en die pasient kan ongeveer 09h00 huistoe gaan. Indien onvoorsiene insidente plaasvind mag die hospitalisasie verleng word.
'n Fisioterapeut besoek die pasiënt in die hospitaal vir toediening van voor- en na-operatiewe longfisioterapie behandeling. Longkomplikasies en probleme na die narkose word hierdeur vermy. Vroeë mobilisasie en aktiwiteit word aangemoedig deur die fisioterapeut en verpleegpersoneel in die hospitaal. Die pasiënt sal ook instruksies kry oor hoe om op te staan vanuit die liggende posisie om nie stress en druk op die buik te plaas nie.
Geen buik of enige ander hare word afgeskeer nie. Die naeltjie word in die hospitaal skoongemaak. Na opname in die saal, voor die operasie, neem die pasiënt ‘n bad met antiseptiese seep wat verskaf word. ‘n Binneaarse vogoorgieting (drup) word ook in werking gestel ter vog toediening.
Tydens ontslag uit die hospitaal moet die volgende items vanaf die suster in die saal verkry word:
Enige tuismedikasie wat ingehandig is tydens opname.
Pynstillers en alle voorgeskrewe medisyne balanse wat tydens hospitalisasie voorgeskryf en toegedien is.
Enige spesiale medikasie wat deur die chirurg voorgeskryf is.
Meeste pasiënte het nie veel pynmedikasie na ontslag nodig nie. Enige erge of abnormale pyn moet dadelik aangemeld word deur die spreekkamers of chirurg te skakel.
Normaalweg word 2 weke benodig vir herstel. Normale werksaamhede kan egter heelwat vroeër hervat word veral as die aard van die werk bv administratief is of daar nie fisiese stremming ter sprake is nie. 'n Siektesertifikaat sal uitgereik word tydens die eerste wondversorging besoek aan die spreekkamers na die operasie.
Na ontslag word wondversorging uitgevoer op Vrydagoggende tussen 08h00 en 10h00 by die spreekkamers. Dit is nie nodig om 'n afspraak te maak nie. Die geregistreerde verpleegkundiges is die pasiënte te wagte.
Die pasiënt moet by die spreekkamers aandoen op die eerste wondversorgingskliniek na die operasie. Die verpleegkundige sal die verbande en pleisters vervang en die wonde versorg. Reëlings word getref vir die verwydering van die steke of metaalkramme. Die steke of kramme word normaalweg vir 12 tot 14 dae gelaat voordat dit verwyder word. Enige abnormale rooiheid, swelling of dreinasie van 'n wond moet dadelik aangemeld word.
Die pasiënt behoort daagliks beter te voel.
Die volgende simptome of tekens moet dadelik by die spreekkamers of chirurg aangemeld word:
Koors, bloeding, toenemende buikpyn of borskaspyn, ongemak of swelling, koue koors, aanhoudende hoes of kortasemheid, onvermoë om te sluk, dreinasie uit wonde uit.
'n Opvolgondersoek en evaluasie volg 6 tot 8 weke na die operasie. Hierdie afspraak word gemaak tydens die eerste wondversorgings besoek by die spreekkamers of met ontslag. Tydens die opvolgafspraak word die slukderm en klep weer nagegaan met esofagus manometrie en gastroskopie. Die slukderm se rousere kan bv. soms genees met Barrett se esofagus.
Terugkeer na normale werksomstandighede kan intussen onderneem word.
'n Privaat dieëtkundige sal die pasiënt besoek in die hospitaal en 'n verdere herstel dieët beplan vir die pasiënt se spesifieke behoeftes. Dit is belangrik om die dieët instruksies na te kom om sodoende die herstel te ver-gemaklik en bespoedig. Geen alkohol mag in die herstel tyd gebruik word nie. Vir die eerste paar dae na die operasie mag die pasiënt slegs vloeistowwe neem. Gaskoeldranke word aanbeveel om die pasiënt te leer om vroeg reeds winde op te breek. Vaste kosse moet baie goed fyn gekou word en dit is belangrik om stadig te eet.
Normaalweg verloor die pasiënt 5 tot 10% van sy liggaamsmassa na die operasie. Dit word gewoonlik weer herwin.
Die pasiënt kan spoedig terugkeer na normale aktiwiteite bv. bad, stort, motorbestuur, trappe klim, ligte voorwerpe optel, werk en seksuele omgang. Die eerste drie weke na die operasie moet geen swaar voorwerpe gelig word of opgetel word nie. In die drie tot ses weke tydperk na die operasie word ligte oefeninge aangemoedig nl. stap, fietsry en selfs ligte strek oefeninge. Fisiese stremming en kontaksport moet in die eerste ses weke herstel tydperk vermy word. Motorbestuur kan enkele dae na die operasie hervat word sodra fisiese beweging vrylik en pynloos uitgevoer kan word. Na die 6 weke na-operatiewe opvolg besoek kan alle normale aktiwiteite, kontaksport, gymnasium oefeninge ens. weer hervat word.
Veelvuldige studies het reeds getoon dat die oorgrote meerderheid van pasiënte wat laparoskopiese chirurgie veilig ondergaan het vir GERS, simptoomvry is met 'n uitstekende verbetering in lewenskwaliteit.
Hierdie tipe chirurgie word met groter veiligheid uitgevoer as tradisionele chirurgie - inderwaarheid tien maal veiliger volgens gepubliseerde studies. Komplikasies kan egter soms voorkom soos gevind word met alle vorms van chirurgie.
Spesialis narkotiseurs word gebruik vir die operasies.
Indien vorige probleme met narkose ondervind is moet dit aan die narkotiseur gemeld word. Narkose word egter met groot oorleg en veiligheid uitgevoer.
By sommige pasiënte kan die na-operatiewe pynstillers soms naarheid en mislikheid veroorsaak. Allergie vir sekere middels kan ook voorkom maar is nie algemeen nie. Inspuitings teen naarheid word roetine toegedien om die probleem die hoof te bied.
Bloeding en besering van organe bv die slukderm en maag
Soos met alle chirurgie is hierdie komplikasies altyd ter sprake. Met laparoskopiese chirurgie is die beeld op die videoskerm 10 tot 20 maal vergroot. Spesiale voorsorg word getref tydens laparoskopies chirurgie om hierdie komplikasie te vermy. Bloedverlies tydens laparoskopiese chirurgie is min en dit is raar vir 'n pasiënt om 'n bloedoortapping te benodig vir die roetine laparoskopiese chirurgie. Hierdie tipe chirurgie is juis geskik indien daar geloofsbesware teen bloedoorgieting is. Geringe bloeding vind soms in die wondjies plaas wat dreinasie benodig.
Met chirurgie en wonde is infeksie van die wond of buikholte altyd ter sprake. Spesifieke wondhantering word uitgevoer om te verseker dat infeksie nie plaasvind nie. Wond infeksies na laparoskopiese chirurgie is ongewoon en raar.
Diep veneuse trombose of bloedklonte in die kuit se bloedvate is altyd 'n risiko na alle tipes chirugie. Voorsorg word getref deur alle pasiënte reeds voor die operasie voor te berei. 'n Onderhuidse inspuiting van 'n middel (heparien) wat bloedklonte verhoed word toegedien. Hierdie inspuiting word op 'n daaglikse basis toegedien. Longfisioterapie en vroeë aktiwiteit na die operasie verhoed verder ook hierdie bloedklont vorming.
Risiko gevalle sal selfs spesiale antitrombose kouse dra wat die gevaar van trombose in die kuite verder verminder.
In 'n baie klein persentasie van pasiënte is dit nie moontlik of veilig om 'n laparoskopiese operasie uit te voer nie. As die chirurg besluit dat dit veiliger is om die prosedure te voltooi of uit te voer dmv tradisionele oop chirurgiese metodes, is dit nie 'n komplikasie nie maar goeie chirurgiese oordeel aangesien daar nooit 'n rede is om die pasiënt te onderwerp aan 'n onveilige prosedure nie. Faktore wat 'n rol mag speel by die besluit is vorige buikoperasies met gevolglike littekenweefsel of vergroeiings in die buikholte, vorige mantelvlies breuk operasies, vorige infeksie in die buikholte met vergroeiings tot gevolg, 'n ander komplikasie soos bv. bloeding, of waar die operasie weens ander tegniese redes nie veilig uitgevoer kan word nie. Die besluit om oor te skakel na oop chirurgie is gegrond op die pasiënt se veiligheid.
Langtermyn newe-effekte na die operasie is ongewoon.
Sommige pasiënte sluk moeilik vroeg na die operasie. Hierdie slukmeganisme keer terug na normaal binne een tot drie maande na die operasie. Dit is selde nodig om 'n rekking van die slukderm uit te voer na die operasie.
Indien 'n vernouing van die slukderm teenwoordig was voor die operasie, is dit soms nodig om 'n rekking van die slukderm te doen nadat die slukderm genees het. Dit is selde nodig om weer te opereer.
Meeste pasient kan winde breek na die operasie maar daar is 'n klein persentasie wat nie kan winde breek na die operasie nie. Dit kan soms lei tot buikongemak (voel opgeblaas) en vermeerderde winde. Daar is ook soms 'n onvermoë om te kan braak na die operasie.
Dit is ongewoon dat 'n pasiënt se GERS simptome nie verbeter na die operasie nie.
Indien daar enige verdere navrae is oor GERS, moet asseblief nie skroom om verder navraag te doen by die spreekkamerpersoneel, verpleegpersoneel of die chirurg self nie. Enige vrae wat u het sal so volledig moontlik beantwoord word.