Met herhaalde blootstelling van die slukderm aan suur, brand die suur afkomstig van die maag die slymvlies van die slukderm, met gevolglike beskadiging. Dit is inderwaarheid 'n chemiese brandwond van die sluk-derm, wat gering kan wees met net rooiheid en inflammasie van die slukderm, tot erge beskadiging met diep chroniese rousere of ulserasie van die slukderm.
Die skade kan uitbrei na die spiere van die slukderm, en die slukderm in so ‘n mate beskadig dat die slukderm nie meer behoorlik saamtrek nie. Die gevolg hiervan is verswakte peristaltiese kontraksies. Die slukderm probeer genees en soos met enige wond, en veral brandwonde, vorm littekenweefsel. Die littekenweefsel in die slukderm krimp in die rondte en in lengte. Hierdie veranderinge kan lei tot vernouing en selfs verkorting van die slukderm.
Refluks kan lei tot ontsteking, rousere en vernouing in die slukderm.
Vernouing agv ‘n chroniese rouseer wat in die slukderm vorm agv die hiatus hernia met refluks.
Soms, in langstaande gevalle van kroniese refluks, word die slukderm slymvlies so beskadig dat die slymvlies verander na 'n tipe suurbestande slymvlies wat maagslymvlies naboots in 'n poging om homself te beskerm. Die toestand staan bekend as Barrett se slukderm. Hierdie abnomale slymvliesselle kan in 'n klein persentasie van gevalle lei tot kanker van die slukderm.
Indien Barrett se esofagus aanwesig is verhoog die risiko van kanker van die ondereinde van die slukderm 30 to 40 maal meer as die algemene bevolking. Syfers van so hoog as 10% insidensie vir slukdermkanker word in die mediese literatuur raporteer.
Derhalwe is dit belangrik om Barrett se esofagus jaarliks of tweejaarliks op te volg met herhaalde gastroskopies.
Tydens die ondersoek word ‘n stukkie weefsel (’n biopsie van die slymvlies) geneem en gestuur vir mikroskopiese ontleding (histopatologie ondersoek). Op hierdie wyse kan daar bepaal word of daar wel ongewenste veranderinge plaasvind. In daardie groepie persone kan die Barrett se esofagus tydig behandel word.
Abnormale slymvlies belyn die onderste deel van die slukderm.
Slukdermkanker wat ontstaan het in Barrett se esofagus